Suid-Afrikaners, veral inwoners van Gauteng, staar ‘n ernstige waterkrisis in die gesig. Rise Mzansi en AfriForum waarsku dat dié krisis, wat lank reeds voorsien is, nou op ‘n kritieke punt beland het.
Verskeie gemeenskappe ontvang al net druppels water of het hul watertoevoer heeltemal verloor. Gugu Ndima, ‘n woordvoerder van Rise Mzansi, lê die skuld vierkantig by die deur van onbevoegde munisipaliteite wat versuim om hul pligte na te kom. “Hierdie krisis herinner aan die aanhoudende elektrisiteitsprobleme wat al tot normaliteit verhef is,” sê sy.
AfriForum waarsku verder dat onbeheerde waterverbruik en verwaarloosde infrastruktuur die probleem vererger. Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurskenner, meen strenger waterbeperkings mag binnekort nodig wees. “Inwoners in Pretoria, Johannesburg en Durban moet nou al onder vlak 1-beperkings leef, maar as hulle nie hul verbruik beperk nie, sal kraanwater nóg stywer toegedraai word,” sê sy.
Die krisis word verder aangevuur deur verouderde infrastruktuur, droogtes en besoedeling. Cooks benadruk dat munisipaliteite nie betroubare planne gereed het nie en dat inwoners self verantwoordelikheid moet neem. “Elektrisiteit het alternatiewe soos sonkrag, maar vir water bestaan daar geen alternatief nie. Elke huis moet gereed wees vir Dag Zero.”
AfriForum en Rise Mzansi het albei ‘n beroep op die regering en die private sektor gedoen om saam te werk aan oplossings. “Die tyd vir beskuldigings is verby. Munisipaliteite moet nou daadwerklik optree,” lui die waarskuwing.