Die ANC en sy alliansievennote beplan om Menseregtedag met ’n grootskaalse optog by Constitutional Hill hul teenkanting teen die Amerikaanse regering onder president Donald Trump uit te spreek. Die betoging is vir 21 Maart beplan en vorm deel van wat die party as ’n verdedigingsaksie teen buitelandse druk beskou.
Volgens die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het ‘n “koue oorlog” tussen Suid-Afrika en die Verenigde State ontwikkel. Hy het tydens ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê dat Suid-Afrika “aangeval word; die res van die wêreld kom te staan teen hierdie idee van isolasie en eensydigheid.”
Mbalula het aangevoer dat die optog bedoel is om Suid-Afrika se soewereiniteit te beskerm. “Ons marsjeer ter verdediging van ons soewereiniteit wat aangeval word,” het Mbalula Donderdag verduidelik.
“Ons marsjeer teen imperialistiese aggressie wat poog om te dikteer wat met ander state moet gebeur. Ons marsjeer teen die ondermyning van multilaterale forums soos die VN en die skep van vredesrade onder leiding van die administrasie van Donald Trump en die VSA.
“Ons word self geteiken omdat ons glo besig is met ’n volksmoord teen wit mense. Ons het gepoog om op ’n redelike wyse te verduidelik, maar Amerika het die isolasie van ons land versterk,” het die ANC se sekretaris-generaal Donderdag gesê.
Intussen het die Solidariteit Beweging sterk beswaar gemaak dat die optog kan lei tot “ekonomiese selfdood”. Hierdie uitsprake word deur die Beweging verwerp.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die ANC se uitsprake kom op ’n kritieke oomblik, aangesien die Amerikaanse senaat binnekort moet besluit oor die voortsetting van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, beter bekend as Agoa. Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika reeds werkverliese ervaar het weens onsekerheid oor handel en Amerikaanse invoertariewe. “Mbalula en die ANC se uitsprake en optrede is ekonomiese selfmoord in ’n tyd waarin ons land elke moontlike uitvoermark nodig het.”
Volgens Buys is daar aanduidings dat hul eie gesprekke met die Trump-administrasie oor moontlike handelsreëlings nie heeltemal tot stilstand gekom het nie. Maar die gevoel is dat Suid-Afrika gepoloities kant kies teen Amerika. “Mbalula se gek uitsprake bevestig hierdie vrese wat kongreslede die afgelope paar weke teenoor ons geopper het.”
“Dit lyk egter of die ANC en Mbalula juis betrekkinge met die VSA finaal wil verongeluk.”

