Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Ramahosa VS Elon Musk

by | Apr 17, 2026 | Nuus | 0 comments

President Cyril Ramaphosa het dié week gereageer op uitlatings deur die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk oor die land se swart ekonomiese bemagtigingsbeleid (SEB).
Ramaphosa het by die Birchwood-hotel in Boksburg gesê hy heg min waarde aan wat Musk op sosiale media skryf. Volgens hom is Suid-Afrika se wetgewing nie rassisties nie, maar daarop gemik om mense te bemagtig wat in die verlede benadeel is.
Die reaksie volg nadat Musk weer kritiek uitgespreek het oor plaaslike regulasies, veral die vereiste dat maatskappye ’n 30%-belang aan histories benadeelde groepe moet gee om ’n telekommunikasielisensie te bekom. Sy satellietinternetdiens, Starlink, wil in Suid-Afrika sake doen, maar onderhandelinge met die regering bly ’n struikelblok.
“Die Suid-Afrikaanse wette is letterlik super-rassisties, eenvoudig en klaar,” het Musk op X geskryf.
Hy meen daar sou groot reaksie gewees het as die wet “wit bemagtiging” eerder as “swart bemagtiging” voorgestel het. “Mense sal ‘n toeval kry,” reken Musk.
Volgens hom het Suid-Afrika vandag meer wetgewing wat teen wit mense gerig is as wat daar tydens apartheid teen swart mense was. “Die huige swart regering is besig met apartheid 2.0. Skaam julle,” skryf hy.
Ramaphosa het op sy beurt gesê dit is opvallend dat Musk nie fokus op onregte uit die verlede wat swart Suid-Afrikaners geraak het nie. Hy het beklemtoon dat baie internasionale ondernemings, insluitend groot tegnologiemaatskappye, reeds suksesvol binne die land se wetlike raamwerk funksioneer.
Hy het ook aangevoer dat dit nie regverdig is om SEB uit te sonder nie, aangesien die beleid daarop gemik is om breër ekonomiese deelname te bevorder. Volgens hom voldoen honderde buitelandse maatskappye reeds aan hierdie vereistes.
Politieke ontleder Theo Neethling meen Ramaphosa se reaksie dui daarop dat die regering SEB steeds as ’n noodsaaklike instrument beskou om ongelykhede aan te spreek. Hy sê die debat oor dié beleid bly ’n sensitiewe en polities gelaaide kwessie, veral met die oog op komende verkiesings.
Nog ’n ontleder, Piet Croucamp, voer aan dat SEB wel hersien moet word, aangesien dit volgens hom dikwels nie breë voordele inhou nie en eerder tot ongelykhede binne sekere groepe kan bydra. Hy meen dit kan ook as ’n instrument misbruik word.
Intussen het Christo van der Rheede daarop gewys dat alternatiewe soos die Ekonomiese Ekwivalensieprogram (EEP) moontlik ’n uitweg kan bied. Dié model stel maatskappye in staat om aan SEB-vereistes te voldoen deur beleggings in plaas van direkte eienaarskap.
Volgens Van der Rheede gaan die kernvraag uiteindelik daaroor hoe Suid-Afrika ekonomiese groei kan bevorder terwyl dit steeds sy grondwetlike verbintenisse tot gelykheid en regstelling nakom.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem