Die boeregemeenskap van Vivo in Limpopo het besluit om self die toekoms van Afrikanerboere te vorm — letterlik met hande aan die ploeg. Op ’n 330 hektaar plaas, vroeër bekend as Amesfort, word daar tans gewerk aan die stigting van ’n nuwe Christelik-Afrikaanse Landboukollege, wat in 2029 sy deure sal open.
Die doel is om jong Afrikaners in hul moedertaal op te lei in landbou- en ambagsvaardighede binne ’n duidelike Christelike waarderaamwerk. Volgens Johan Koekemoer van CVO Skool Vivo, sal die kollege jong mense toerus om as boere, entrepreneurs en leiers in hul gemeenskappe te groei.
Die opleiding fokus op leer deur te doen: van diere- en plantproduksie tot meganiese en kreatiewe werkswinkels soos Vonk & Vaardig en Skep & Skitter. Studente sal nie net akademiese kennis opdoen nie, maar ook selfvertroue en praktiese vaardighede ontwikkel om onafhanklik te leef en waarde te skep.
Sport, nisboerdery en geloofsgebaseerde leierskap vorm kernaspekte van die program. Die gemeenskap beoog om oor die volgende vyf jaar R50 miljoen in te samel vir die ontwikkeling van die kampus, dosente, koshuisgeriewe en boerderyprojekte.
“Ons bou nie net ’n kollege nie — ons bou ’n toekoms vir ons volk,” sê Koekemoer. “Elkeen wat glo dat ons kinders weer hoop en rigting nodig het, is welkom om saam te bou.”
Belangstellendes kan Johan Koekemoer kontak by koekemoerjohan11@gmail.com om by die projek betrokke te raak.

