Die Vrystaatse Departement van Landbou het bevestig dat Sasolburg as ’n nuwe bek-en-klouseergebied verklaar is, nadat nog gevalle van die siekte in Parys en omliggende dele bevestig is. Die nuwe uitbrekings vorm deel van die groter Viljoenskroon–Vredefort-gebied, waar die siekte die afgelope weke merkbaar toegeneem het.
Volgens Vrystaat Landbou (VL) moet die uitslae van ’n verdagte geval in Kroonstad nog bevestig word, terwyl verskeie ander toetse reeds negatief was. Intussen behoort die tweede ronde van inentings teen die siekte volgende week in sekere gebiede afgehandel te wees.
Sedert die uitbreking in 2022 is duisende dosisse entstof reeds in die Vrystaat toegedien, en geen newe-effekte is tot dusver aangemeld nie. Die Departement van Landbou bevestig dat intensiewe pogings voortgaan om verdere verspreiding te beperk.
Friedl van Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou, sê die Viljoenskroon-gebied is tans die ergste geraak, met 25 bevestigde en 15 moontlike gevalle wat in die rigting van Vredefort versprei. “Boere in die streek meld gevalle vinnig aan, soos vereis, en dit help om die verspreiding van die siekte in bedwang te bring,” sê hy.
Hy wys egter daarop dat die tekort aan staatsveeartse steeds ’n uitdaging vir die implementering van streng vervoermetings skep. Vrystaat Landbou het reeds voorgestel dat vee slegs met ’n veeartspermit oor provinsiale grense vervoer mag word, eerder as bloot met ’n eienaarsverklaring. “Die tekort aan staatsveeartse bemoeilik hierdie proses, veral saam met die huidige inentingsveldtog,” verduidelik Van Maltitz.
Hy waarsku verder dat boere wat nie die simptome van bek-en-klouseer betyds aanmeld nie, die opheffing van kwarantyn in gevaar stel en die risiko van verdere besmetting verhoog. “As ’n boer vermoed ’n dier is besmet, kan hy eenvoudig ’n foto of video aan sy plaaslike veearts of dieregesondheidstegnikus stuur,” sê hy. “Op dié manier beskerm ons kritieke mannekrag en help elke boer om die Vrystaatse veesektor te beskerm.”

