Die lugdiens Emirates het beperkte vlugte van die Verenigde Arabiese Emirate na Suid-Afrika hervat te midde van die toenemende konflik in die Midde-Ooste.
Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) sê meer as 6 400 Suid-Afrikaners is tans in die streek gestrand weens die spanning en lugruimsluitings wat deur die konflik veroorsaak is.
Die departement doen ’n dringende beroep op Suid-Afrikaanse burgers om van die beperkte vlugte gebruik te maak om die gebied te verlaat.
Volgens Dirco vertrek die Emirates-vlugte uit Dubai en land in Kaapstad en Johannesburg, wat Suid-Afrikaners die geleentheid bied om veilig na die land terug te keer.
Intussen het Qatar Airways ook aangekondig dat hy ’n beperkte aantal noodvlugte reël om passasiers te help. Die lugdiens sê die vlugte word georganiseer weens lugruimsluitings en veiligheidsrisiko’s in dele van die streek.
Die departement sê hy monitor die situasie noukeurig en moedig Suid-Afrikaners in die Midde-Ooste aan om waaksaam te bly en beskikbare reisgeleenthede te benut om die streek te verlaat.

