Wat vir Dewald Beetge ’n dag van viering moes wees, het ’n stryd om oorlewing geword. Die jong sekuriteitswag het op Dinsdag, 22 Oktober, sy 22ste verjaarsdag in ’n hospitaalbed deurgebring – steeds in ’n ernstige toestand ná ’n brutale plaasaanval op sy familieplaas tussen Hibberdene en Port Shepstone.
Dewald is op 15 Oktober vyf keer geskiet – in sy heup, buik, bors en gesig – en het ook ernstige brandwonde opgedoen wat dui dat hy van naby in die kop geskiet is. Volgens AfriForum was die aanval doelgerig, en het die aanvallers hom moontlik in teregstellingsstyl wou doodmaak.
Sy pa, Karel Beetge, vertel dat Dewald die verdagtes opgemerk het toe hy ná sy skof by die huis aangekom het. Terwyl hy met sy pa oor die foon gepraat het, het skote geklap. Karel het huis toe gejaag en sy seun in ’n kritieke toestand aangetref.
Dewald is later aan ’n geïnduseerde koma onderwerp ná ’n noodoperasie. Op 23 Oktober is hy daaruit gehaal, en alhoewel sy toestand steeds ernstig bly, toon hy tekens van herstel.
Die Beetge-plaas was reeds agt keer hierdie jaar die teiken van inbrake, met meer as R50 000 se verliese. Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, beklemtoon hierdie aanval die ernstige bedreiging waarmee landelike gemeenskappe daagliks leef.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie, en die polisie se ondersoek duur voort.

