’n Boer van Harrismith het vandeesweek self opgetree en gehelp om drie mans aan te keer nadat hulle na bewering op sy plaas ingebreek, items gesteel en hom aangerand het.
Volgens polisiewoordvoerder ao. Mmako Mophiring het die voorval Dinsdagoggend plaasgevind terwyl die boer vermoedelik op pad was om sy plaaswerkers op te laai en vee in die lande te laat wei. Met sy terugkeer na sy kantoor het hy ontdek dat daar ingebreek is en dat twee skootrekenaars wat op sy lessenaar was, gesteel is.
Die boer het onmiddellik hulp by sy plaaswerkers gesoek, wat aangedui het dat hulle drie mans oor die landerye sien wegvlug het. Die boer het die verdagtes self agternagesit en daarin geslaag om een van hulle te onderskep en te konfronteer oor die beweerde diefstal.
Tydens dié konfrontasie het die ander twee mans die boer egter aangeval. Hy is glo met ’n klip teen die kop geslaan.
Ten spyte van sy beserings het die boer volgehou totdat private sekuriteit ontbied is, wat hom bygestaan het. Die gesteelde items is teruggevind, en al drie verdagtes is met die boer se direkte betrokkenheid aangekeer.
Mophiring sê die verdagtes, tussen 29 en 40 jaar oud, is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van huisbraak, diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hulle sal na verwagting op 6 Februarie in die Harrismith-landdroshof verskyn.

