Na meer as 17 jaar van regsdramas het Vodacom en Kenneth Makate uiteindelik ’n skikking bereik oor die gewilde “Please Call Me”-diens wat miljoene Suid-Afrikaners daagliks gebruik.
Vodacom het Woensdag aangekondig dat sy direksie op 4 November die skikking goedgekeur het en dat die saak nou buite die hof afgehandel is. “Die partye is verheug dat finaliteit in hierdie verband bereik is,” het die maatskappy gesê.
Makate, wat die idee vir die gratis terugbelboodskap in 2001 uitgedink het terwyl hy nog by Vodacom gewerk het, het sedertdien in ’n lang hofstryd met die selfoonreus gewikkel oor vergoeding. Hy het aangevoer dat Vodacom se gebruik van die diens die maatskappy tot sowat R70 miljard in inkomste besorg het.
Hoewel geen besonderhede oor die skikking bekend gemaak is nie, bring dit ’n einde aan een van Suid-Afrika se langste korporatiewe regsgeskille. Makate het vroeër ’n aanbod van R47 miljoen verwerp en daarop aangedring dat die vergoeding veel hoër moet wees.
Die hof het vroeër vanjaar beslis dat Vodacom hom tussen 5% en 7,5% van die inkomste uit die diens oor 18 jaar moet betaal — wat tussen R30 en R70 miljard kon beloop.
Vodacom het die uitspraak egter na die Konstitusionele Hof geneem. In Julie vanjaar het die hof ten gunste van Vodacom beslis en die vorige uitspraak van die appèlhof tersyde gestel. Die saak is vervolgens terugverwys na die appèlhof.

