Op 16 Desember gaan die hartklop en magtige dreuning van die Afrikanergemeenskap oudergewoonte teen die hange van Monumentkoppie in Pretoria weerklink. By die Voortrekkermonument, ’n simbool van geloof, volharding, vryheid en toekomsvertroue, word die grootste Geloftefees tot nog toe beplan.
Tydens hierdie gedenkdag eer ons die geskiedenis, word geloof versterk en die verbondenheid aan ons unieke kultuur onbeskaamd gevier. Verlede jaar is Geloftedag deur meer as 30 000 mense bygewoon.
Geloftedag is nie bloot ’n herinnering aan die Slag van Bloedrivier nie; dit is ’n hernieude herdenking van die waardes, geloof, eenheid en opoffering wat die Voortrekkers gedra het. Op 16 Desember 1838 is iets groter as ’n oorwinning gebore – ’n lewende erfenis wat tot vandag toe voortleef.
Son en seën belyn
Een van die mees indrukwekkende en betekenisvolle oomblikke by die Monument is wanneer die son deur die okulus, die ronde opening bo in die koepeldak, skyn. Jaarliks op 16 Desember, presies om 12:00, val die sonstraal deur hierdie noukeurig beplande opening op die woorde “Ons vir jou, Suid-Afrika” op die senotaaf.
Hierdie tydsberekening is allermins toevallig. Dit is die resultaat en kombinasie van wetenskaplike en ingenieursvernuf met ’n diep geestelike betekenis. Die argitek Gerard Moerdijk het die Monument só ontwerp dat die son, in sy presiese baan, net een keer per jaar – om 12:00, daardie kragtige boodskap aanraak. Dit simboliseer die lig van God se seën op die volk wat sy gelofte gestand doen.
Die feit dat die son, aarde en Monument op só ’n presiese manier met mekaar belyn, maak die Monument een van die mees merkwaardig beplande geboue in Suid-Afrika, en selfs in die wêreld. Hierdie unieke verskynsel verbind wetenskap en geloof in ’n enkele oomblik van heilige stilte – wanneer almal wat daar staan, weet: ons geskiedenis leef, en God is getrou.
Dag vir jonk en oud

