Brandbestryding in verskeie gebiede rondom Mosselbaai het Woensdag in die vroeë oggendure voortgeduur, met talle inwoners wat reeds vroeër aangesê is om hul huise te verlaat en na veilige gebiede te vlug.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het kort ná middernag bevestig dat die brand steeds nie onder bedwang gebring is nie en dat brandbestrydingspanne deur die nag gewerk het. ’n Hommeltuig met infrarooi-kapasiteit is onder meer ingespan om die omvang van die brand te bepaal en aktiewe brandpunte uit te wys, terwyl die weerstoestande — veral die rigting en sterkte van die wind — fyn gemonitor word.
Inwoners van Island View, asook vakansiegangers in die Alwyndal- en Hartenbos-omgewings, is na veiligheid geneem. Die plaaslike owerheid het gewaarsku dat verdere ontruimings moontlik nodig kan wees namate die situasie ontwikkel.
Terugvoervergaderings is reeds Dinsdag om 22:00 en weer om middernag gehou, met alle betrokke rolspelers wat Woensdag om 07:00 weer sou vergader. Die jongste amptelike terugvoer oor die brand is kort daarna verwag.
Intussen het die gemeenskap saamgestaan om bystand te verleen. Inwoners en vakansiegangers het hul huise en harte oopgemaak om blyplek te bied aan dié wat deur die brand geraak is. ’n Gesamentlike Operasionele Sentrum (JOC) koördineer tans brandbestryding, ontruimings en humanitêre hulp in die gebied.
Volgens ’n verklaring van die Mosselbaai-munisipaliteit het talle private inwoners, gastehuise, die ATKV-Hartenbos, skole en ander instellings spontaan hulp aangebied. “Die munisipaliteit bedank inwoners vir die oorweldigende aanbod van blyplek en hulp. Die meeste mense wat hul huise moes verlaat, is veilig by vriende of familie en bykomende versoeke word deur die JOC hanteer,” lui die verklaring.
Hoewel geen spesifieke besonderhede nog bekend gemaak is nie, het die munisipaliteit bevestig dat “verskeie strukture” tydens die brand beskadig is.
Die publiek is versoek om nie skenkings direk na die brandgebiede te neem nie, maar dit eerder by die Mosselbaaise brandweerstasie op die hoek van Schoemanstraat en Louis Fourieweg af te gee. Inwoners word ook versoek om waaksaam te bly vir noodvoertuie en nooddienste, en slegs geakkrediteerde vrywilligers word toegelaat om hulp te verleen.
Brandbestrydingspanne van Mosselbaai, die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, asook spanne van die Hessequa- en George-munisipaliteite, tesame met vrywillige dienste, werk onder uiters moeilike omstandighede om die brand te bestry. Sterk wind en beperkte toegang tot sekere gebiede bemoeilik die pogings verder.
Die burgemeester van Mosselbaai, Dirk Kotzé, het inwoners versoek om kalm te bly en alle instruksies van gemeenskapsveiligheidspanne noukeurig te volg. Hy het ook ’n beroep gedoen dat daar vir die geraakte gebiede en mense gebid word.
Vir inwoners wat hul huise moes verlaat en nie ’n veilige plek vir hul troeteldiere gehad het nie, het die Hartenbos-dierehospitaal aangebied om die diere te versorg.
“Ons gemeenskap se krag lê in die manier waarop ons mekaar ondersteun,” het Kotzé gesê. “Dankie aan die spanne, en dankie aan julle Mosselbaai-mense wat met soveel omgee en toewyding vir mekaar en julle diere bystaan.”

