Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, hou voet by stuk dat lyfstraf as moontlike vonnis weer oorweeg moet word — ’n standpunt wat hy sê spruit uit die krisis rondom jong verhoorafwagtendes in Suid-Afrikaanse tronke.
Volgens Groenewald is daar geen rede om sy vroeëre uitspraak terug te trek nie. Hy reageer hiermee op ’n nuwe vlaag kritiek nadat die DA sy Julie-verklaring weer onder die aandag gebring het. “Ek moet hoor wat die mense van Suid-Afrika hiervan dink. Die reaksie sedert Julie was oorwegend positief,” sê hy.
Groenewald verduidelik dat talle jongmense tans maande lank in aanhouding bly oor geringe beweerde misdrywe bloot omdat hulle nie borg kan bekostig nie. Dit stel hulle bloot aan ernstige misdade soos aanranding en verkragting. Hy beklemtoon dat sy voorstel nie beteken dat lyfstraf lukraak toegepas moet word nie, maar slegs as ’n hofvonnis. “Ek het nooit van skole gepraat nie,” voeg hy by.
Die DA se woordvoerder oor korrektiewe dienste, Janho Engelbrecht, beskuldig Groenewald daarvan dat hy indirek wysigings aan die Grondwet voorstaan, iets wat die minister ontken. Engelbrecht meen Groenewald se opmerkings skep ’n gevaarlike presedent en kan die deur oopmaak vir ekstremistiese groepe om die Grondwet verder te verwater.
Groenewald slaan terug en noem die aantygings “eenvoudig onwaar”. Hy sê hy het nooit ’n wetswysiging versoek nie, maar bloot ’n openbare gesprek oor oplossings vir oorvol tronke. “Nou wil hulle skielik antwoorde hê? Dit is vir my duidelik hulle het ’n politieke agenda,” sê hy.
Volgens die minister is die DA se kritici nie opreg nie. “Hy weet hy is verkeerd,” sluit Groenewald af

