Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Groot struikelblok vir nuwe Afrikaanse skool in Hartenbos

by | Nov 25, 2025 | Nuus | 0 comments

’n Grootskaalse Afrikaansmedium skoolprojek in Hartenbos hang tans in die weegskaal nadat die Mosselbaai-munisipaliteit ’n heffing van R7,7 miljoen op die eerste fase van die projek wil hef voordat bouwerk kan begin. Volgens die projekspan van Hartland Akademie is die bedrag buitensporig en word dit onbillik bereken.
Rudolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS Inisiatief – die organisasie wat die skool saam met die Doxa Deo Opvoedkundige Trust bou – sê die heffing kom neer op sowat R22 000 per leerder in die eerste fase. “Dit is nie volhoubaar nie, “verduidelik hy.
Van der Westhuizen vergelyk die bedrag met soortgelyke projekte in ander dele van die land: in Tshwane beloop die heffing slegs R1 200 per leerder, en in Mpumalanga is geen heffing op nuwe skole gehef nie. Die projek se prokureurs het reeds ’n formele versoek aan die Mosselbaai-munisipaliteit gerig om die heffing te herevalueer, en argumenteer dat dit nie rasioneel of regverdig is nie, en selfs die munisipaliteit se eie ontwikkelingsdoelwitte ondermyn.
Daar word verder gewaarsku teen die “dubbele telling” van verkeersimpak, aangesien die meeste reise na skole reeds deel is van ouers se bestaande roetes. “Om die skool ‘n heffing vir hierdie verkeer op te lê, beteken dat dieselfde beweging twee keer belas word,” sê Van der Westhuizen.
Volgens die MOS Inisiatief is die behoefte aan ’n nuwe Afrikaanse skool in die Mosselbaai- en Hartenbos-omgewing enorm. Die groeiende Afrikaanse gemeenskap het ’n dringende tekort aan kwaliteit skole.
Die beplande Hartland Akademie sal aanvanklik 350 leerders vanaf Gr. RRR tot Gr. 3 akkommodeer en daarna jaarliks tot Gr. 7 uitbrei. Navorsing toon dat daar teen 2026 ’n tekort van meer as 6 000 plekke in Afrikaanse skole in die streek sal wees.
Danie Acker van die VF Plus in die Tuinroete-distrik bevestig die enorme druk op Afrikaanse onderwys. Daar is nie genoeg akademiese Afrikaanse hoërskole in die Suid-Kaap nie, en die laerskole bars reeds uit hul nate.
Ten spyte van die teenslae bly die span vasbeslote om ’n Christus-gesentreerde Afrikaanse skool van uitnemendheid tot stand te bring. Van der Westhuizen sê die vertraging dien nie die belang van die Mosselbaai-gemeenskap nie en dat hulle hoop op ’n konstruktiewe oplossing.
“Ons bly oop vir gesprek en samewerking. Ons glo gesonde verstand en die gemeenskapsbelang sal uiteindelik die pad vorentoe bepaal,” sê hy.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem