’n Hof in New Mexico het Meta beveel om $375 miljoen te betaal nadat bevind is dat die maatskappy gebruikers mislei het oor die veiligheid van sy platforms vir kinders.
’n Jurie het beslis dat Meta, eienaar van Facebook, Instagram en WhatsApp, kinders blootgestel het aan seksueel eksplisiete inhoud en kontak met seksmisdadigers. Die hof het bevind Meta het New Mexico se Wet op Onbillike Praktyke oortree.
Die staat se prokureur-generaal, Raul Torrez, het die uitspraak as “histories” beskryf en gesê dit is die eerste suksesvolle saak van sy soort teen Meta.
Meta, onder leiding van Mark Zuckerberg, sê hy verskil met die uitspraak en beplan om te appelleer. Die maatskappy hou vol dat hy werk om gebruikers te beskerm en die uitdagings van skadelike inhoud erken.
Tydens die sewe weke lange verhoor is interne dokumente en getuienis van voormalige werknemers aangebied. Dit het getoon dat Meta bewus was van kindermolesteerders op sy platforms. ’n Voormalige ingenieur, Arturo Béjar, het getuig dat minderjariges aan geseksualiseerde inhoud blootgestel is en dat sy eie dogter op Instagram vir seks genader is.
Interne navorsing het ook gewys dat 16% van Instagram-gebruikers in een week ongewenste seksuele inhoud gesien het.
Meta het aangevoer dat hy oor die jare stappe gedoen het om jong gebruikers te beskerm, onder meer met nuwe funksies soos “Teen Accounts” en waarskuwings aan ouers.
Die hof het bevind daar was duisende oortredings, elk met ’n moontlike boete van $5 000, wat tot die totale bedrag gelei het.
Meta is ook betrokke by ’n afsonderlike saak in Los Angeles, waar beweer word dat platforms soos Instagram en YouTube verslawend ontwerp is vir jong gebruikers. Duisende soortgelyke sake is tans in die VSA hangende.
New Mexico het Meta in 2023 gedagvaar en beweer die maatskappy se algoritmes lei jong gebruikers na eksplisiete inhoud, kindermisbruikmateriaal en selfs seksuele uitbuiting.
Volgens Torrez het Meta se bestuur geweet hul produkte benadeel kinders, waarskuwings geïgnoreer en die publiek mislei.
“Vandag sê die hof saam met families en kenners: genoeg is genoeg,” het hy gesê.

