Suid-Afrika se buitelandse beleid is opnuut onder skoot na berigte dat Iranse oorlogskepe na verwagting in Kaapstad gaan aandoen. Die vaartuie sal glo ook deelneem aan Mosi III, ’n gesamentlike vlootoefening waarin lande soos Rusland en China betrokke is.
Volgens berigte het skout-admiraal Shahram Irani, bevelvoerder van Iran se vloot, bevestig dat vlootgroepe reeds op internasionale sending vertrek het. Die 103de vlootgroep sal na verwagting in Kaapstad vasmeer voor deelname aan die Brics-verwante oefening.
Die verwikkeling kan Suid-Afrika se reeds gespanne verhouding met die Verenigde State verder versuur. Chris Hattingh, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, sê die verwelkoming van militêre magte uit gesanksioneerde state soos Iran en Rusland stuur ’n duidelike politieke boodskap uit, ongeag of die regering dit erken of nie.
Hattingh waarsku dat die regering se beweerde neutraliteit toenemend bevraagteken word, veral aangesien militêre samewerking met Westerse lande blykbaar afneem. Volgens hom is daar ook kommer oor gebrekkige deursigtigheid en beperkte parlementêre toesig oor sulke samewerking.
Die DA sê hulle sal volle deursigtigheid oor militêre oefeninge met gesanksioneerde state eis, en dring aan op sterker parlementêre toesig oor die SANW se internasionale verbintenisse.

