Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Misa: Discovery Health moet self die koste dra

by | Jan 9, 2026 | Nuus | 0 comments

Discovery Health-lede behoort nie die prys te betaal vir administratiewe foute wat die mediese fonds self gemaak het nie. Só sê die Personeelvereniging vir die Motorbedryf (Misa), wat sterk standpunt inneem teen Discovery Health se besluit om geld terug te eis ná die herverwerking van foutief uitbetaalde eise.
Volgens Misa is dit onaanvaarbaar dat lede – baie van wie reeds onder finansiële druk verkeer – nou met skuld opgesaal word as gevolg van ’n administratiewe fout. Misa se uitvoerende hoof, Martlé Keyter, sê Discovery Health moet self die koste dra en nie dit op gewone werkers afskuif nie.
Die fout spruit uit ’n verkeerde uitbetaling van sekere voorskrif- en oor-die-toonbank-medisyne-eise, wat daartoe gelei het dat lede vroeër hul jaarlikse voordele bereik het. Ná herverwerking word lede nou versoek om bedrae, in sommige gevalle tienduisende rand, terug te betaal.
Keyter sê dit is veral skokkend gegewe die Discovery-groep se sterk finansiële prestasie en waarsku dat die saak ernstige implikasies vir vertroue in mediese fondse kan hê. Misa doen ’n beroep op Discovery Health om die besluit te heroorweeg en sy lede teen verdere finansiële en emosionele druk te beskerm.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem