Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Moenie kyk nie – red jou hond!

by | Okt 29, 2025 | Nuus | 0 comments

’n Durbanse veearts het ’n ernstige waarskuwing aan honde-eienaars gerig ná ’n kommerwekkende toename in slangbyte – en in mense wat eerder hul selfone gryp as om hul troeteldiere te help.
Dr. Carla Goede van die Universiteit van Pretoria sê sy sien toenemend gevalle waar eienaars hul honde verfilm terwyl dié teen giftige slange te staan kom. “Ek sien net twee diere wat doen wat vir hulle natuurlik is: die hond beskerm sy gebied of jaag ‘n knaagdier, en die slang soek skuiling of prooi. Maar wanneer daardie konfrontasie gebeur, vertel die syfers ‘n tragiese storie,” sê sy.
Volgens haar is sowat 80 honde in die groter Durban-gebied die afgelope jaar deur giftige slange gepik. In baie gevalle het eienaars voortgegaan om te verfilm in plaas daarvan om die hond veilig te verwyder.
KwaZulu-Natal het die hoogste voorkoms van slangbyte in Suid-Afrika – sowat 8,89 per 100 000 inwoners – en in sekere gebiede selfs tot 82 per 100 000. Die gebrek aan teenmiddel in plaaslike hospitale vererger die probleem, terwyl behandeling vir diere selfs meer kompleks is as vir mense, wat die risiko verder verhoog.
Goede waarsku: “In ’n provinsie soos KwaZulu-Natal, waar slangbyte reeds ’n groot risiko vir mense inhou, is die gevaar vir troeteldiere net so ernstig. As ’n slang jou hond bedreig, moenie die drama verfilm nie. Tree op.”
Wenke vir voorkoming:
  • Hou jou hond aan ’n leiband wanner jy in bosagtige gebiede of lang gras stap, veral teen skemer of dagbreek.
  • Verwyder rommelhope en houtstapels wat knaagdiere lok.
  • Leer watter giftige slange in jou omgewing voorkom.
  • Moet nooit self probeer om ’n slang te vang of dood te maak nie – skakel eerder ’n professionele slangvanger.
Goede voeg by dat stedelike uitbreiding, warmer weer en habitatvernietiging die risiko vir slangontmoetings verder verhoog.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem