Op 27 Februarie 1881 het ’n klein groepie Boerekommando’s teen die hange van Majubaberg ’n oorwinning behaal wat diep spore in die geskiedenis van Suid-Afrika getrap het. Vandag, 145 jaar later, bly Majubadag ’n dag van herdenking – nie net van ’n militêre oorwinning nie, maar van geloof, vasberadenheid en die prys van vryheid.
Die Slag van Majuba was die klimaks van die Eerste Vryheidsoorlog tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Britse Ryk. Britse magte het die berg beset in ’n poging om ’n strategiese voordeel te verkry. Wat gevolg het, was ’n dag van intense gevegte teen steil hange, met rook wat oor die kruin gehang het en die klank van geweervuur wat deur die berge weergalm het.
Teen die einde van die dag is die Britse magte verslaan en generaal Sir George Pomeroy Colley het gesneuwel. Die oorwinning by Majuba het ’n keerpunt geword wat uiteindelik gelei het tot die herstel van selfregering vir die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Vanjaar word Majubadag weer by Majubaberg naby Volksrust herdenk. Die program sluit onder meer ’n slagveldtoer, kranslegging, kanonafvuur, ’n bestyging van die berg, ’n skyngeveg en kulturele aktiwiteite soos boeresport en ’n potjiekoskompetisie in, met die verrigtinge wat Sondag met ’n skrifoorddenking en danksegging afgesluit word.

Vir baie Volksgenote het Majuba ’n simbool geword van hoop. Dit is ’n herinnering aan manne wat met beperkte middele, maar met ’n vaste oortuiging, hul saak verdedig het.

