Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Peiling: Twyfel oor “wit volksmoord” groei, moeg vir raspolitiek

by | Apr 16, 2026 | Nuus | 0 comments

Suid-Afrikaners raak toenemend moeg vir politiek wat op ras fokus, en dit is ’n bemoedigende tendens in die huidige politieke klimaat, meen Hermann Pretorius, hoof van strategiese kommunikasie by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).
Pretorius het Woensdag ’n verslag bekend gestel oor ’n peiling wat die IRV tussen 9 en 20 Maart vanjaar gedoen het. In dié opname is deelnemers gevra oor sensitiewe kwessies soos of hulle glo daar is ’n wit volksmoord in Suid-Afrika, en of hulle meen die land se president noodwendig swart moet wees.
Altesaam 1 038 mense uit uiteenlopende agtergronde het aan die peiling deelgeneem, met verteenwoordiging oor verskillende rassegroepe en sosio-ekonomiese vlakke.
Volgens die bevindings is rassisme steeds deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid, maar baie mense is van mening dat die samelewing nie langer op rassegrense gebou behoort te word nie. Daar is ook ’n sterk gevoel dat samewerking tussen gemeenskappe noodsaaklik is om vooruitgang te bewerkstellig.
Ongeveer 70% van die respondente het aangedui dat die regering moet wegbeweeg van sogenaamde “apartheid-rasseklassifikasies” wanneer daar oor ekonomiese geleenthede en werkskepping besluit word. Net 27% meen dat sulke kategorieë steeds gebruik moet word. Hierdie siening sluit die meerderheid van alle rassegroepe in, naamlik 64% van swart deelnemers, 85% van bruin deelnemers, 74% van Indiese deelnemers en 97% van wit deelnemers.
Meer as 89% van die deelnemers het ook gesê dat samewerking tussen alle groepe in die land bevorder moet word.
Wat die debat oor ’n sogenaamde “wit volksmoord” betref, het 72% van die deelnemers gesê hulle glo nie dit vind plaas nie, terwyl 19% wel die teendeel glo. Die kwessie het internasionaal aandag gekry nadat die Amerikaanse president Donald Trump aan die begin van sy tweede termyn beweer het dat so iets in Suid-Afrika gebeur. Hy het selfs ’n program ingestel om Afrikaners wat voel hulle word bedreig, as vlugtelinge in die VSA te akkommodeer.
Onder wit deelnemers het die menings egter verdeel gebly: die helfte het nie saamgestem dat daar ’n volksmoord plaasvind nie, terwyl 37% wel van mening is dat dit die geval is.
Pretorius het beklemtoon dat die peiling eerder mense se persepsies meet as harde feite. Hy meen dit sal waardevol wees om oor ’n tydperk van 30 jaar soortgelyke data te vergelyk, maar dat huidige sienings grootliks deur emosies en belewenisse beïnvloed word.
Hy wys daarop dat wit Suid-Afrikaners wat glo daar is ’n volksmoord, dikwels voel dat regeringsbeleid teen hulle werk. Voorbeelde hiervan sluit volgens hom beleide soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en die Bela-wet in, wat deur sommige as benadelend ervaar word en ’n gevoel van onsekerheid skep.
Pretorius voeg by dat baie Suid-Afrikaners reeds vir ’n geruime tyd nie meer sterk reageer op rasgedrewe politiek nie. Hy meen die verkiesing van Geordin Hill-Lewis as leier binne die DA weerspieël hierdie verskuiwing in openbare sentiment en politieke verwagtinge – iets wat volgens hom die eerste keer in drie dekades so duidelik na vore kom.
Volgens Pretorius was Suid-Afrikaners nog nooit werklik ondersteuners van rasgebaseerde ideologieë nie. Hy glo dat partye soos die ANC steun verloor wanneer hulle omstrede ideologiese besluite neem. Wanneer kiesers hul kruisies trek, fokus hulle al hoe meer op praktiese verbeterings in hul lewens eerder as op ras of ideologie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem