Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Ramaphosa sal Amerikaanse gesant se geloofsbriewe ontvang

by | Apr 7, 2026 | Nuus | 0 comments

Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, sal hierdie week die geloofsbriewe van die aangewese Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell, ontvang.
Bozell se formele akkreditasie op 8 April volg ná maande van spanning tussen Pretoria en Washington. Dit sluit onder meer die uitsetting van Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, Ebrahim Rasool, verlede jaar deur president Donald Trump se administrasie in. Rasool het Washington se ontevredenheid ontlok nadat hy beweer het dat Trump-ondersteuners deel vorm van ’n “supremasistiese beweging”.
Die spanning het voortgeduur, selfs ná Bozell se aankoms.
Verlede maand het Suid-Afrika se Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ’n diplomatieke beswaar aan hom gerig oor uitsprake waarin hy ’n plaaslike hofuitspraak oor haatspraak bevraagteken het.
Volgens ’n verklaring van Ramaphosa se kantoor sal Bozell sy geloofsbriewe saam met dié van gesante uit 19 ander lande, insluitend Kuba, aanbied. Ambassadeurs kan eers hul pligte ten volle aanvaar sodra hul geloofsbriewe amptelik deur die gasheerland erken is.
Die betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika het versleg sedert Trump se terugkeer tot die amp. Hy het Ramaphosa se regering herhaaldelik daarvan beskuldig dat dit ’n volksmoord teen wit boere pleeg.
Trump het ook vlugtelingstatus aan lede van die Afrikaner-minderheid gebied, die hoogste invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte in sub-Sahara-Afrika ingestel,  en Amerikaanse amptenare ontmoedig het om twee G20-vergaderings wat verlede jaar in Pretoria aangebied is, by te woon. Verder het hy kritiek uitgespreek op Suid-Afrika se betrekkinge met Iran, Rusland en China.
Diplomatieke skakeling tussen die twee lande bly egter beperk.
Washington het geweier om met Mcebisi Jonas, Ramaphosa se spesiale gesant na die VSA, in gesprek te tree. Jonas het Trump in die verlede gekritiseer.
Bozell volg Reuben Brigety op, wat onder voormalige president Joe Biden aangestel is en ná Trump se verkiesingsoorwinning laat in 2024 bedank het. Suid-Afrika moet nog ’n opvolger vir Rasool aanwys.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem