Dezzi du Plessis (37), ’n toegewyde ma van twee en geliefde lid van die hardlopersgemeenskap, is Vrydag oorlede nadat sy einde November tydens die Soweto-marathon deur ’n minibus-taxi, glo deur ’n dronk bestuurder bestuur, getref is. Haar familie bevestig dat sy “tot die einde baklei het, maar sag en rustig na ons Hemelse Vader is.”
Du Plessis is ná die ongeluk in die hoësorgeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal behandel, waar dokters verskeie kritieke noodprosedures moes uitvoer. Dit het onder meer ’n breinoperasie behels om bloeding en drukking te verlig, sowel as ’n Hartmann-prosedure nadat haar derm ernstig beskadig is. Sy het egter nie weer haar bewussyn herwin nie en is onder verdowing gehou om pyn te verlig en haar liggaam kans te gee om te herstel. Haar toestand het verder verswak toe haar nierfunksie ernstig aangedaan is, wat dialise noodsaaklik gemaak het. Ondanks voortdurende spesialisversorging is sy oorlede.
Marijke Miller, familie-woordvoerder, het Du Plessis beskryf as ’n liefdevolle, vasberade en buitengewoon sterk vrou. “Sy was ’n geliefde ma van twee, ’n toegewyde dogter, suster en vriendin wat almal rondom haar geraak het met haar warmte, empatie en lewenslus,” het Miller gesê.
Hardloop was een van Du Plessis se grootste passies. Sy was ’n ervare en toegewyde atleet wat gereeld deelgeneem het aan groot wedlope soos die Comrades en die Twee Oseane-marathon. Hardloop was meer as net ’n sport vir haar—dit was haar manier om gefokus, gesond en gebalanseerd te bly, en ’n passie wat sy met haar ouers gedeel het.
Die Soweto-marathon was vir haar altyd ’n hoogtepunt en ’n viering van gemeenskap, uithouvermoë en trots saam met mede-atlete. Haar hardloopgemeenskap sal op 13 Desember steeds ’n wedloop hou ter ondersteuning van haar familie en ter nagedagtenis aan haar.
Du Plessis laat haar twee kinders en ’n groot kring van familie, vriende en medehardlopers agter wat haar sal onthou vir haar deursettingsvermoë, sagtheid en lewensvreugde.

