Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

Sssssssssstop! Indië oorweeg reptiele op Bangladesj-grens

by | Apr 9, 2026 | Nuus | 0 comments

Indië ondersoek ’n ongewone, maar omstrede plan om slange en krokodille langs dele van sy grens met Bangladesj te ontplooi in ’n poging om onwettige immigrasie te beperk. Die voorstel is volgens die land se grensveiligheidsmag nog in die ondersoekfase, maar het reeds debat ontlok oor die praktiese en etiese implikasies daarvan.
Die grens tussen Indië en Bangladesj strek oor meer as 4 000 km en loop deur uitdagende terrein, insluitend uitgestrekte deltagebiede waar riviere vanaf die Himalaja kronkel tot by die see. Groot dele van hierdie grens is moeilik om te beveilig en het nie deurlopende heinings nie.
’n Verdere komplikasie is dat die grens deur die Sundarbans sny – die wêreld se grootste wortelboomwoud – waar tradisionele grensbeheermaatreëls dikwels ondoeltreffend of selfs onmoontlik is.
Adjunk-inspekteur-generaal Manoj Barnwal, ’n senior amptenaar van die grensveiligheidsmag, het bevestig dat die idee tydens ’n vergadering in Februarie met die ministerie van binnelandse sake bespreek is.
“Ons is gevra om die haalbaarheid daarvan te ondersoek om reptiele soos slange of krokodille langs kwesbare rivieroewers te ontplooi,” het Barnwal gesê.
Volgens hom behels die plan die gebruik van natuurlike afskrikmiddels in vloedgevoelige gebiede waar heinings nie werk nie. “Die doel is om hierdie diere in gebiede te gebruik waar tradisionele sekuriteitsmaatreëls nie doeltreffend is nie,” het hy verduidelik.
Barnwal het egter ook gewaarsku dat die voorstel beduidende uitdagings inhou. Vrae oor waar die reptiele vandaan sal kom, hoe hulle beheer sal word en watter impak dit op nabygeleë gemeenskappe kan hê, bly onbeantwoord.
Die voorstel kom teen die agtergrond van gespanne betrekkinge tussen Indië en Bangladesj ná politieke onrus in 2024, toe die destydse premier, Sjeik Hasina Wazed, ná ’n rewolusie uit die land gevlug het.
Hoewel Bangladesj tans poog om diplomatieke bande te herstel, het Indië intussen sy grensbeheer verskerp. Honderde kilometers se grensheinings is reeds opgerig, en talle Bangladesjse burgers wat die grens onwettig probeer oorsteek, is in hegtenis geneem.
Of die gebruik van reptiele uiteindelik deel van Indië se grensstrategie sal word, is nog onseker, maar die voorstel beklemtoon die toenemende druk op owerhede om innoverende – en soms onkonvensionele – oplossings te oorweeg.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem