Luister op 95.5fm

Luister aanlyn!

VF Plus: Vlootoefening bedreig SA se ekonomie

by | Jan 14, 2026 | Nuus | 0 comments

Die VF Plus sê die ANC-regering se besluit om ’n gesamentlike vlootoefening met Iran, Rusland en China in Simonstad toe te laat, plaas Suid-Afrika se ekonomiese toekoms onder druk en kan ernstige gevolge vir internasionale handelsverhoudinge hê.
Volgens die party wys die besluit nie op neutrale buitelandse beleid nie, maar op ’n doelbewuste skuif in Suid-Afrika se geopolitieke posisionering. Jaco Mulder, VF Plus-LPW en die party se woordvoerder oor handel en nywerheid, meen die regering verkies ideologiese bondgenote bo die land se tradisionele en belangrikste handelsvennote in die Weste, veral die Verenigde State van Amerika.
Mulder sê dat die simboliek rondom die oefening – insluitend militêre seremonies en internasionale dekking – reeds ’n duidelike boodskap aan die wêreld gestuur het, ongeag latere pogings om die impak te versag. Hoewel Iran later sy betrokkenheid afgeskaal het, meen hy die diplomatieke skade is reeds aangerig.
Hy waarsku dat die VSA die oefening as ’n vyandige gebaar kan interpreteer, wat die risiko van verhoogde tariewe, sanksies en die moontlike verlies van voorkeurhandelsvoordele inhou. Volgens die VF Plus het die regering hiermee gekies om ideologie bo ekonomiese stabiliteit te plaas.
Die party sê hy sal aanhou om druk op die uitvoerende gesag te plaas om rekenskap te gee oor die besluit. Die VF Plus doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa en die minister van internasionale betrekkinge, Ronald Lamola, om daadwerklike stappe te doen om Suid-Afrika se handelsverhoudinge met sleutelvennote, veral die VSA, te herstel en te versterk.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegTerug na stem