Die Stad Kaapstad sê ’n motoris wat vroeër vandeesweek op kamera vasgevang is waar hy rommel uit ’n voertuig se venster gooi, het intussen na vore gekom en ’n boete betaal.
Die voorval het opslae gemaak nadat ’n video op sosiale media versprei is waarin ’n toergids uit ’n bus klim, die stuk rommel optel en dit aan die persoon in die voertuig teruggee. Die motoris gooi die rommel egter kort daarna weer by die venster uit en wys boonop ’n kru teken aan die verbygaande bus met die toergids.
Volgens die stad se woordvoerder oor wetstoepassing, Wayne Dyason, het die video “soos ’n veldbrand versprei” en is ’n reuse-aanlyn-soektog na die motoris van stapel gestuur nadat die beeldmateriaal wyd gedeel is.
Dyason sê die stad kan bevestig dat die betrokke persoon op sy eie na vore gekom het en ’n skuld-erkenningsboete van R500 betaal het ingevolge die munisipale verordening oor geïntegreerde afvalbestuur.
Die stad het die motoris bedank dat hy die regte ding gedoen het en herinner die publiek daaraan om nie rommel te strooi of enige ander munisipale verordening te oortree nie.
“Dit mag lyk soos ’n geringe oortreding, maar die wet is die wet, en dit geld vir almal – sonder vrees of bevoordeling,” het Dyason gesê.

